Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 04 DESEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SOWAT 40 SARL-LEDE NIE IN OKOSA SE REKORDS

FASTRAC 1 BENODIG U HULP

LOGBOEK VAN DIE WÊRELD SE FASILITEITE

NASIONALE RADIO AFGHANISTAN OORTREE OP 40 METER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SOWAT 40 SARL-LEDE NIE IN OKOSA SE REKORDS

Colin de Villiers, ZS6COL, het gewerk om die SARL en OKOSA se rekords in ooreenstemming te bring. In die proses het hy gevind dat ongeveer 40 van die SARL se lede nie in die rekords van OKOSA verskyn nie. Tegnies gesproke gebruik hierdie amateurs hulle roepseine dus onwettig.

Tydens die SARL – OKOSA se kwartaallikse samewerkingsvergadering, wat op Donderdag 8 Desember gehou is, het OKOSA onderneem om e-posse aan die betrokke persone te stuur en hulle te versoek om so gou doenlik voltooide aansoekvorms vir ’n amateurradiolisensie in te dien. Dit sal OKOSA in staat stel om hulle rekords op datum te bring. Diegene wat dus gedurende hierdie week so ’n e-pos van OKOSA ontvang, reageer dus asb. so gou doenlik daarop.

Verskeie ander aangeleenthede is ook bespreek en daaroor sal volledig verslag gedoen word in ’n opdatering aan lede wat gedurende die week per e-pos aan lede gestuur sal word en daarna op die web geplaas sal word.

FASTRAC 1 BENODIG U HULP

Die FASTRAC-satelliete is reeds vir meer as ’n jaar in bedryf en die span was in staat om baie data van hulle te verkry. Gedurende die laaste maand het die span opgemerk dat dat een van FASTRAC 1 se aanboordmikrobeheerders, wat een van die eksperimente beheer, nie reg aan die werk kom nie. Die span het alles moontlik probeer om hierdie werking reg te stel behalwe om dit af te skakel, wat alleen kan gebeur indien die batterye se lading tot onder ’n spesifieke vlak daal.

Aangesien die satelliete se kragvlak die hele jaar positief was, kan dit alleenlik gebeur indien die satelliet meer dikwels uitsaai. Gegee dat een van die doelwitte van FASTRAC altyd was om ’n platform vir gebruik aan amateurradio-entoesiaste te verskaf,
nadat die primêre sending voltooi is, het die span besluit om FASTRAC 1 oop te maak vir gebruik deur radioamateurs, met die hoop dat soos dit meer vir digiherhaling deur die satelliet gebruik word, die batteryvlakke sodanig sal daal dat dit ’n harde herstel van die mikrobeheerders aan boord tot gevolg sal hê.

Om die moontlikheid van ’n harde herstel te vergroot, word ’n versoek gerig dat so veel as moontlik radioamateurs hierdie naweek probeer om deur die satelliet te digiherhaal.

Sal diegene wat suksesvol met digiherhaling deur die satelliete is, of enige probleme ondervind, asb. die span daarvan in kennis stel d.m.v. e-pos aan fastracsats@gmail.com. Inligting oor frekwensies en hoe om te digiherhaal, kan op die Facebook-blad by www.facebook.com/fastracsats verkry word.

LOGBOEK VAN DIE WÊRELD SE FASILITEITE

Tye is aan die verander. Die meeste Suid-Afrikaanse DX'ers het al die plesier van bevestigings deur die Logboek van die Wêreld gesmaak. Ons wag nou slegs dae of weke vir bevestiging van kontakte, eerder as maande of jare soos in die ou dae. En dis gratis! DXCC-aansoeke word nou gereeld binne 'n week verwerk.

Ongelukkig maak die Logboek van die Wêreld tans net voorsiening vir die ARRL se DX-Hondertalklub (oftewel DXCC), Worked All States en die BHF/UHF-Hondertalklub (oftewel VUCC). Steun vir ander toekennings word nog bewerkstellig.

'n Hele paar Suid-Afrikaners jaag nou aktief die state van die VSA suiwer deur Wêreldlogboek-bevestigings. Deelnemers sluit ZS2DL, ZS2EZ, ZS2Y, ZS4TX en ZS6EZ in. Meeste van hulle het al 'n paar bande en modusse voltooi.

Vir ander toekennings is papierkaarte nog meestal nodig. Tjerk Lammers, ZS6P, die Liga se Toekenningsbestuurder, kan die kaarte vir die meeste toekennings nagaan, DXCC ingesluit. CQ-Tydskrif se toekennings, insluitend Worked All Zones, kan deur Donovan van Loggerenberg, ZS2DL, of Chris Burger, ZS6EZ, nagegaan word. Kontak hulle direk vir meer inligting.

'n Lys van Suid-Afrikaanse toekenninghouers verskyn op zs6ez.org.za/lists.

Groot dank aan Tjerk, Donovan en Chris vir hulle, ook gratis, onbaatsugtige diens aan mederadioamateurs.

NASIONALE RADIO AFGHANISTAN OORTREE OP 40 METER

Uli, DJ9KR, rapporteer dat Nasionale Radio Afghanistan op 7 200 kHz bedrywig is en 7 195 tot 7 205 met sy oudiosybande dek. Moniteer asb. die frekwensie en stuur verslae aan Fred Scheepers met e-posadres zs1fcs@telkomsa.net.

VAKANSIETYDSLUITING VAN SARL-KANTOOR

Die kantoor van die SARL sal op 23 Desember sluit en weer op 3 Januarie 2012 open.

GEE ’n BOEK AS KERSPRESENT

Verlede week is in SARLNUUS aangekondig dat die nuwe 2012 ARRL-Handboek en Antennaboek in hardeband beskikbaar is. Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust het ook die Satelliethandboek, Basiese Antennas en Klein Antennas vir Beperkte Ruimtes in voorraad. Verkry volle besonderhede op www.amateurradio.org.za/books.htm.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit op relatief lae vlakke is met net 'n paar C-klas fakkels wat gedurende die week opgemerk is. Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF-toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 95.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP openinge van tyd tot tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.
Onthou ook om nominasies in te stuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003